God's Kingdom Ministries
Serious Bible Study

GKM

Donate

Hoofstuk 1: Die God wat Spreek

‘Die geloof is dus uit die gehoor, en die gehoor is deur die woord van God.’


Romeine 10:17:

Geloof: Almal het al daarvan gehoor, baie het dit al gesien, maar betreklik min het dit al werklik intens ervaar. Hebreërs 3 en 4 vertel ons dat die Israeliete nie God se Sabbatsrus kon binnegaan nie. Hulle kon nie hierdie ervaringsvlak bereik nie, want hulle het die nodige geloof ontbreek. Waarom? Het hulle dan nie al die wonders wat God deur Moses gedoen het, gesien nie? Het hulle nie die skeiding van die Rooisee beleef nie? Het hulle die manna uit die hemel en die vurige teenwoordigheid van God op Sinaï nie gesien nie? Hulle het dit alles beslis gesien en hulle was oortuig dat al hierdie dinge van God was. Tog het hulle nie oor die geloof beskik om die Beloofde Land binne te gaan nie. Die vraag is: Waarom nie?

Daar is ‘n veskil tussen geloof en verstandelike oortuiging. ‘n Mens kan volkome oortuig wees van die egtheid van die Skrif en dat Jesus die Seun van God is wat gesterf en weer opgestaan het, maar steeds nie die vlak van geloof hê wat nodig is om die Beloofde Land binne te gaan nie. Dit verg geloof so groot soos ‘n mostertsaadjie om ‘n berg te versit, soos Jesus gesê het - hoe min geloof het ons nie! Wanneer ons met molshope konfronteer word, is ons dikwels gefrustreer en hulpeloos om enigiets te doen. As ons wel iets doen, kom dit voor of ons petaljes met Baälsprofete s’n ooreenkom. In plaas daarvan om eenvoudig te bid, soos Elia wat daarin geslaag het om goed gedoen te kry, wil ons God manupileer om iets vir ons te doen.

Min mense glo dat gebed iets is wat werklik vir hulle kan werk. Dit is die rede waarom gebedsvergaderings selde belangstelling geniet en wanneer mense opdaag, is dit meer uit plig en pastorale dwang as werklike belangstelling. Meeste mense raak nie opgewonde oor gebedsvergaderings nie, want hulle verwag nie werklik dat veel deur hul gebede vermag sal word nie. Dus pak slegs die pligsgetroues en gedissiplineerdes hierdie taak aan en dit is selde ‘n viering van God se interaksie met mense.

Hebreërs 3:19 sê: ‘En ons sien dat hulle deur ongeloof nie kon ingaan nie.’ Die tipe geloof waarvan in hierdie vers melding gemaak word, is nie die soort wat nodig is om ‘gered’ te word nie. Die hele Israel was gered deur geloof toe hulle Egipte verlaat het daardie eerste Paasfees. Deur Paasfees te vier het hulle hul geloof in die bloed van die Lam verklaar en almal het op hierdie vlak in God geglo, anders sou hulle eersgebore seuns gesterf het. Dit gee vir ons die tipe en skadu van die evangeliese Christene van vandag, wat die wêreld (Egipte) verlaat het en oppad is na die Beloofde Land.

Die probleem is egter die volgende: Baie Christene verlaat Egipte en gaan selfs deur die Rooisee (deur gedoop te word - 1 Korintiërs 10:2); maar dan koloniseer hulle op die oorkantste wal van die Rooisee, bou ‘n huis (kerk) en neem aan dat hulle in die Beloofde Land is. Later kom party agter dat daar meer van God is om te ervaar as net die Paasfeesondervinding en Rooisee-ondervinding en dan volg hulle die Gees (vuurkolom) tot by die voet van die berg Sinaï. Dit is die plek waar God in vuur neergedaal het en almal Sy stem gehoor het toe Hy in elkeen se eie taal met hulle gepraat het. Op hierdie dag, later bekend as Pinkster of die Fees van Weke, het God die Tien Gebooie aan die mense bekend gemaak.

Dit was die dag waarop Israel die tweede vlak van geloof moes bekom op hul reis na die Beloofde Land. Paulus sê in Romeine 1:17 ‘… die geregtigheid van God word daarin geopenbaar uit geloof tot geloof,’. Dit beteken God openbaar Homself aan mense van een vlak van geloof tot die volgende, namate ons Sy stem hoor. Wanneer Hy praat en wanneer ons hoor, beweeg ons uit geloof tot geloof. Daar is drie hoofvlakke van geestelike ondervinding en geloof - elk tipeer Israel se ondervindings in die wildernis. Dit word onderhou deur middel van feesdae, naamlik Paasfees, Pinkster en die Loofhuttefees.

Toe God Sy karakter deur middel van die wet aan Israel by die berg Sinaï openbaar het, was hulle te bang om die tweede vlak van geloof binne te gaan. Ons lees in Eksodus 20:18-21,

18 And all the people saw the thunderings, and the lightnings, and the noise of the trumpet, and the mountain smoking; and when the people saw it, they removed and stood afar off. 19 And they said unto Moses, Speak thou with us, and we will hear; but let not God speak with us, lest we die. 20 And Moses said unto the people, Fear not, for God is come to prove you, and that His fear may be before your faces that ye sin not. 21 And the people stood afar off, and Moses drew near unto the thick darkness where God was.

18 En toe die hele volk die donderslae en die blitse en die geluid van die basuin en die rokende berg bemerk, het die volk dit gesien en gebewe en op ‘n afstand bly staan. 19 En hulle het vir Moses gesê: Spreek u met ons, dat ons kan luister; maar laat God nie met ons spreek nie, anders sterwe ons. 20 Toe antwoord Moses die volk: Wees nie bevrees nie, want God het gekom om julle te beproef en dat sy vrees voor julle oë mag wees, sodat julle nie sondig nie. 21 So het die volk dan op ‘n aftand bly staan. Maar Moses het nader gegaan na die wolkedonkerheid waar God was.

Omdat die mense bang was om te sterf, het hulle van God en Sy stem af weggehardloop, daarom was dit vir hulle nie moontlik om die Pinkster-vlak van geloof, wat God vir hulle bestem het, te bereik nie. Hul weiering om die Goddelike wet te hoor, het veroorsaak dat die wet nie op hul harte geskryf was nie, maar op kliptafels. Dus het die Gees van God nie in hulle gewerk om hul harte te verander nie, die wet was van buite op hulle toegepas en hul doen en late is beheer deur dissipline. Die vervulling van Pinkster is so uitgestel vir nog 1500 jaar, tot ná Jesus se dood en opstanding. In die boek Handelinge lees ons dat die dissipels byeen was in die bokamer om die stem van God te hoor en die Goddelike openbaring van Pinkster te ontvang. Hulle het gedoen wat hul voorvaders geweier het om te doen op dieselfde dag baie jare vantevore.

Omdat Israel onder Moses geweier het om na die stem van God te luister en daardeur geweier het dat die wet op hul harte geskryf word, was dit vir hulle onmoontlik om die daaropvolgende jaar in die Beloofde Land in te gaan. Die twaalf spioene het gesien dat die land vrugbaar was en het as bewys, van die eerste ryp trosse druiwe saamgebring (Numeri 13:20). Hieruit sien ons dat dit die sewende maand op die Hebreeuse kalender was (omtrent September). Tien van die twaalf spioene het ‘n slegte verslag gelewer - wat ‘n refleksie van die ongeloof van die volk was. Daarna is hierdie dag herdenk as die Dag van Versoening - ‘n dag vir vas en inkeer tot berou, omdat hulle geweier het om die Beloofde Land binne te gaan. Indien hulle egter op die trompet (basuin) geblaas het as ‘n teken dat hulle besluit het om gereed te maak om die land binne te gaan, sou dit die Trompet gewees het wat die Jubileum aankondig. Dit was inderdaad die 50ste Jubileum vanaf Adam, en hulle moes eintlik ‘elkeen na sy besitting en elkeen na sy geslag teruggaan.’ (Livitikus 25:9-13).

Hulle het egter nie die geloof gehad om die Beloofde Land binne te gaan nie, omdat hulle vroeër geweier het om na God se stem te luister aan die voet van die berg Sinaï daardie eerste Pinkster. Mens kan nie van Paasfees direk na die Loofhuttefees gaan nie, net so ook kan mens nie direk van ‘Egipte’ na die ‘Beloofde Land’ gaan nie. Mens kan nie die openbaring van die wet by Sinaï omseil nie. Mense wat poog om dit te doen is ‘wetteloos’ anomia volgens die Nuwe Testament.

Dit is vir ons beter om hierdie lesse van tipes en skadu’s in die Ou Testament te leer. Dit is duidelik uit Bybelse vertellings dat daar Christene is met wisselende vlakke van geloof, uitgebeeld deur Paasfees, Pinkster en die Loofhuttefees. Let ook daarop dat die jare vanaf Moses tot by die kruis, ‘n Paasfeestydperk was en die jare vanaf Handelinge 2 tot nou, is ‘n Pinkstertydperk. Ons sal binnekort die Loofhuttetydperk binnegaan. Hoewel baie mense in Jesus se leeftyd die Paasfees op ‘n fisieke vlak onderhou het, het bitter min van hulle werklik die openbaring van Paasfees beleef, wat hulle in staat sou stel om na die volgende vlak van geloof aan te beweeg, naamlik Pinkster. Meeste mense het by die kruis gestruikel (1 Korintiërs 1:23) deur met die Joodse geloofstradisies voort te gaan; nie daartoe in staat om in geloof te groei nie.

Aan ons kant van die Pinkstertydperk, vind ons dat dieselfde dinge op die volgende vlak plaasvind. Baie het gestruikel en gefaal in die toets van Pinkster en is daarom nie gereed om aan te beweeg na die geloof van die Loofhutte nie. Hoofsaaklik omdat - net soos Israel van ouds - hulle te bang is om God se stem te hoor - om in die vlees te sterf. In plaas daarvan om vreesloos in die ‘vuur’ van God in te tree - soos Moses gedoen het - hardloop hulle in die ander rigting. God het nog nooit probeer wegsteek wat sal gebeur wanneer ons nader aan Hom beweeg nie - die vlees sal sterf. ‘n Ware openbaring van God sal altyd die opoffering van vlees wees, wanneer Hy sy vurige wet op ons harte skryf. Paulus het daagliks gesterf, want God het daagliks met hom gepraat (1 Korintiërs 15:31).

Aan wie egter vertel is dat God wil hê ons moet floreer en dat enige teenspoed dus beslis nie van God af kan wees nie, ag hulself Pinkster of charismaties. Deur hierdie leerstelling (veral in Amerika) het mense begin dink hulle kan God se Rus betreë sonder om in die vlees te sterf, sonder enige dissipline en met ‘n wettelose gees. Sulke mense kan hulself maar Pinkster noem, maar net soos Israel van ouds, is hulle reis na Sinaï ydel. Hulle verkies die goue kalf bo die vuur van God. Met ander woorde: Hulle verkies ‘n god wat aan hulle rykdom en vooruitgang beloof bo die verterende vuur wat vlees vernietig terwyl God se wette op ons harte geskryf word. Dit is wat die kerk vandag diskwalifiseer van toegang tot die Beloofde Land.

Die God van Openbaring

Die afgode wat deur mense aanbid word, kan ‘nie sien en nie hoor en nie eet en nie ruik nie’. (Deuteronomium 4:28). Net die God van die Bybel sien, hoor en praat met mense. Die nasie Israel het in die dae van Moses ‘n demonstrasie hiervan beleef toe God in ‘n verterende vuur op Sinaï aan almal Sy wet openbaar het. In Deuternonomium 5:24 sê Moses aan die mense:

24 … And we have heard His voice out of the midst of the fire; we have seen this day that God doth talk with man, and he liveth.

24 … en ons het Sy stem uit die vuur gehoor; vandag het ons gesien dat God met die mens spreek en hy in die lewe bly.

Die dag van Pinkster was dus die dag toe God Homself aan die nasie Israel openbaar het en bewys het dat Hy met die mens kan praat sonder om die mens dood te maak. Tog is Hy ‘n verterende vuur wat die vlees in die mens doodmaak, soos duidelik uit die mense se reaksie in Deuternonomium 5:25-26.

25 Now therefore, why should we die? For this great fire will consume us; if we hear the voice of the Lord our God any more, then we shall die. 26 For who is there of all flesh, that hath heard the voice of the living God speaking out of the midst of the fire, as we have, and lived?

25 Maar waarom moet ons nou sterwe? Want hierdie groot vuur sal ons verteer. As ons die stem van die Here onse God nog langer hoor, sal ons sterwe. 26 Want wie is daar van alle vlees wat die stem van die Lewende God uit die vuur hoor spreek het soos ons en in die lewe gebly het?

Die mense was half-reg - dit was korrek om te sê dat die stem van die Lewende God alle vlees sou doodmaak. Hulle het net nie verstaan dat dit die hele idee agter Pinkster was nie. God het presies bedoel om alle vlees dood te maak wanneer dit Sy stem hoor, sodat mense geesgesind kan dink, sonder die belemmering van die vlees. Die probleem was dat die mense bang was om dood te gaan en aan die sinnelikheid van hul vlees vasgeklou het. Hulle het nie verstaan dat die vlees wat hulle so graag wou behou, in werklikheid reeds dood was nie. Hulle het nie besef dat die enigste weg na ware lewe deur juis hierdie dood was nie. Dit is die groot paradoks van die Christelike geloof: (‘n paradoks is ‘n uitspraak wat skynbaar teenstrydig is, maar by nadere betragting dit nie is nie). Mens kan nie lewe vind deur na lewe te smag nie - dit is slegs te vinde by die deur van dood. Hierdie deur is Jesus Christus, wat gekruisig is om ons te wys hoe om te sterf, hoewel dieselde kruis dikwels die stuikelblok is.

Ek het nog nooit ware woorde van God gehoor wat nie op een of ander manier die vlees laat sterf wat andersins die pad na gehoorsaamheid sou versper nie. Die Woord is ‘n verterende vuur wat vir die vleeslike mens skrikwekkend is, vir die beginner verstommend, maar vir die geestelik volwasse persoon is dit ‘n lewenswyse.

Die hoofrede waarom God met die mens praat, is om ons te leer van Sy weë (denkwyse, manier of metode). Deuteronomium 4:36 sê ‘Uit die hemel het Hy jou Sy stem laat hoor om jou te onderrig;’ Die woord ‘onderrig’ impliseer kennis wat deelagtig gemaak word. Die onderrigmetode begin met instruksies, baie soos ‘n ouer vir ‘n jong kind sal sê wat om te doen, sonder veel verduideliking. Die kind moet leer om gehoorsaam te wees, ongeag of hy verstaan of nie. Eenvoudige gehoorsaamheid ter wille van gehoorsaamheid moet eerste aangeleer word. Soos die kind ouer word, leer hy om vrae te vra wat die vader sal antwoord, nadat die kind gehoorsaam was.

Wanneer die kind geestelike volwassenheid bereik het, gee die Vader meer insig, sodat die kind die Vader se sienswyse kan verstaan - deur hierdie begrip sal die kind die wil van die Vader kan doen sonder enige spesifieke instruksie. As ‘n volwasse jongman (of -vrou), sal die kind slegs doen en sê wat hy sy vader sien doen en sê. Soos Jesus, is hy dan in alle opsigte gelykvormig aan die beeld van Sy hemelse Vader. Hy stem ten volle saam met Sy Vader en doen die wil van Sy Vader - nie onder dwang nie - maar uit liefde en in volkome harmonie.

Die rolle van God as El Shaddai en Yahweh

Voor Moses het God Homself aan Abraham, Isak en Jakob alleenlik openbaar as El Shaddai (Eksodus 6:2, waar Sy naam as ‘Almagtige God’ vertaal word). Dit is die naam van God in Sy moederlike rol van skepping en ontstaan (Genesis is afgely van Grieks: gignesthai). Net soos ‘n kind hoofsaaklik deur sy moeder versorg word wanneer hy nog klein is, so het God die skepping ook versorg.

Jare later het God Homself aan Moses openbaar as Yahweh. Dit is God as Vader wat dissipline aan Sy mense gebring het in die vorm van die wet, sodat ons volwassenheid in Christus kan bereik (Galasiërs 3:24). Sonder hierdie dissiplinering van die wet, sal ons wetteloos bly en volwassenes word wat soos bedorwe kinders, geen respek vir die reg of eiendom van ander het nie. Die wet van God is ontwerp om ons phileo liefde te leer, sodat ons volwasse kan word in die agape liefde van God - die karaktereienskap van volwasse Seuns van God.

Ten slotte openbaar God Homself as El Elyon, ‘Allerhoogste God’. Dit is die God van Melgisedek (Genesis 14:18), die Orde waarvan Jesus Christus die hoërpriester is en ons, as Seuns van God (oorwinnaars), die priesters onder Sy leierskap - met ander woorde: die ‘priesters van God en van Christus’ wat saam met Hom regeer op aarde (Openbaring 5:10 en 20:6).

Wees versigtig vir die mens met ‘n leerstelling dat jy óf El Shaddai óf Yahweh kan omseil ten einde by El Elyon uit te kom. Geen kind kan die troeteling van sy Moeder in sy vroeë lewensjare omseil nie. Kinders wat nooit leer kruip nie, ontwikkel nie die nodige koördinasie om te loop of hardloop wanneer hulle ouer word nie. So ook kan geen kind die dissipline van ‘n liefdevolle vader omseil, en steeds die volwassenheid van ‘n pligsgetroue seun of dogter bereik nie. Net soos dit tyd neem om ‘n seun (of dogter) tot volwassenheid te versorg, neem dit tyd om geestelike seuns tot geestelike volwassenheid te bring. Dit is duidelik uit die verhaal van Israel in die wildernis onder Moses, en ons word jaarliks hieraan herhinner deur die drie feeste te vier, wat op hierdie fases van geestelike ontwikkeling dui.

Paasfees verteenwoordig die eerste fase van geestelike ontwikkeling, omdat dit die begin van ons persoonlike verhouding met God is. Hoewel geregverdig deur geloof, is hierdie mense nog babas in Christus wat melk (die water van die Woord) baie nodig het. Hulle stel baie eise aan God, soos ‘n baba eis om vasgehou, gevoed en skoongemaak te word. Dit is die mees onvolwasse verhouding met God en tog glo die ‘baba-christen’ dat hy nou, omdat hy ‘wedergebore’ is, alle outoriteit ‘bekom’ het wat vir die kinders van God bestem is. In sy verwaandheid het hy geen idee dat ‘… hy niks van ‘n dienskneg [verskil] nie.’ (Galasiërs 4:1).

Pinkster was en is nogsteeds, die feesviering wat die oomblik toe die wet deur die stem van God openbaar is, herdenk. Pinkster is ook die fees wat God se kinders in twee groepe verdeel: rebels en gehoorsaam. Dit is duidelik uit die storie van Israel in die wildernis, waar die mense geweier het om die stem van God te hoor, terwyl Moses gehoorsaam was. Ons sien later dat Kaleb en Joshua ook ore gehad het om te hoor, want hulle het verskil van die ander spioene wat ‘n bose verslag gelewer het aangaande Kanaän. In die kerk van die Pinkstertydperk sien ons dieselfde patroon - God gee boodskappe aan die sewe kerke, maar slegs die oorwinnaars hoor God werklik en is gehoorsaam. Slegs die oorwinnaars is waarlik Pinkster of protestants. Net die oorwinnaars is gewillig om werklik die goddelike wet te hoor, sodat dit op hul harte geskryf kan word.

As Israel onder Moses ontvanklik was, sou God begin het om die wet op hul harte te skryf, dit sou daardeur deel gevorm het van hul menswees. Die mense sou die wette gehoorsaam het as gevolg van hul natuur - omdat hulle wou - nie omdat hulle gehoorsaam moes wees om straf te vermy nie. Israel het egter geweier om God se stem direk te hoor en het eerder vir Moses teen die berg opgestuur om namens hulle te luister. Daardeur het die mense die wette indirek aangehoor toe Moses oorvertel het wat God gesê het. Die wet het ekstern gebly, afgedwing van buite af, net soos ‘n vader se opdragte op ‘n rebelse kind afgedwing moet word wanneer hy sy eie kop wil volg. In sekere opsigte klink die wette streng en selfs ongevoelig, maar dit was ontwerp deur ‘n liefdevolle Vader om Sy rebelse kinders se eie wil te breek, sodat hulle uiteindelik net soos Jesus kan sê ‘… nie my wil nie, maar U wil …’ (Lukas 22:42).

Dit is die uitroep van die Seun wat gehoorsaamheid geleer het deur middel van dinge waardeur Hy moes gaan. Die disiplinering van die Vader is aanvanklik smartlik in ons onvolwasse oë, maar ons weet dat ons geregverdige Seuns-in-opleiding is deur die liefdevolle disiplinering van ‘n Goddelike wetstelsel (Hebreërs 12:5-8). Sonder hierdie dissiplinering sal ons nooit geestelike volwassenheid bereik nie.

Om Moses Namens Ons te Laat Luister

Vandag vertrou die meeste Christene ‘n leraar of denominansie om teen die berg op te gaan en God names hulle aan te hoor. Die predikant of dominee kom dan een of twee keer ‘n week af om vir die mense te vertel wat God gesê het. Selfs indien ‘n predikant of dominee werklik die woord van God direk sou hoor, word daardie woorde AAN die mense gepreek, daarom kom dit van ‘n eksterne bron. Niks is verkeerd daarmee om die woord van God vanuit ‘n eksterne bron aan te hoor nie, want God spreek dikwels deur ander mense. Die probleem ontstaan egter wanneer mense die predikant of dominee hoor en nie die stem van God wat deur hom spreek nie.

Wanneer ons werklik in ons harte deur die stem van God gelei word, beaam die Gees getuienis van die woorde en leer ons dinge, wat selfs die predikant of dominee soms nie besef, terwyl hy preek nie. Daar is ook tye wanneer die Gees nie getuienis beaam nie, en dit is hier waar probleme ontstaan. Indien die leraar of denominansie mense die vryheid sou toelaat om self die stem van God te hoor, sal daar ‘n verskeidenheid van opinies wees. Nie omdat God Homself weerspreek nie, maar om twee redes: in die eerste plek is ons vermoë om te hoor afhanklik van die toestand van ons harte en tweedens gee God vir een mens sekere detail en alternatiewe detail vir ‘n ander persoon.

Uiteenlopende sienswyses kom van die vroegste tye af reeds in die kerk voor, selfs onder die Apostels. In die vierde-eeu, nadat die vervolging verby was en Christen-wees in ‘n godsdiens begin ontwikkel het, het die kerk sistematies deur middel van kerkrade gepoog om diversiteit uit te smoor en alle mense onder een sienswyse byeen te bring naamlik ‘ortodoksie’. Dit was nie lank voor Christene vermoor en gemartel is as offers op die altaar van kerklike eenheid nie. Kort-voor-lank is die mens se reg om God se stem self te hoor van hulle ontneem op grond daarvan dat dit net onenigheid sou meebring. Die reg om God te hoor het op een mens neergekom, die biskop van Rome, wat die hoogste outoriteit van waarheid geword het. Christenskap het ‘n godsdiens geword en mense is forseer om na die stem van een man te luister, eerder as na die stem van God.

Sedert die eerste kerkraad in Nicea in 325 AD, het biskoppe besluit oor sake met betrekking tot dogma en ortodoksie deur middel van politieke geweld, skikkings, vakgeleerdheid en dreigemente van teregstelling of verbanning, eerder as deur Goddelike openbaring. Hulle moes die voorbeeld van Moses gevolg het, wat in gebed na God gegaan het wanneer sake opgeduik het wat God nog nie in die wet spesifiseer het nie (sien byvoorbeeld Numeri 9:6-14). As die biskoppe dit eerder gedoen het, sou dit hulle gedwing het om hul trots en hul soeke na eie hartsbegeertes te bely. Dan sou hulle eerder werklik begeer het om God se stem te hoor en Sy wil te doen. Hul kerkrade het tradisies in plek begin kry net soos in die Ou Testament gedoen is teen die tyd van Christus.

Ná 1500 jaar hiervan het die Protestantse Reformasie die Romeinse Kerk gesplit en binnekort was daar baie opinies. Baie van hierdie vroeë kerkverbande het gepoog om hul sienswyses op ander af te dwing deur verskillende vlakke van vervolging. Uiteindelik, veral in Amerika, is besluit dat alle mense die vryheid van gewete moes hê om God se stem te volg (of die stem van mense) soos dit elke individu behaag. Dit het egter nie die oorspronklike probleem opgelos nie, maar dit het elke mens darem geleentheid gegee om werklik self die stem van God te hoor. Nietemin - kerkverbande het hulself dikwels as ‘die ware kerk’ bevestig met lidmaatskap as ‘n vereiste vir verlossing. Onderdanigheid aan die besluite van die bestuur en die aanvaarding van dogmatiese stellings vasgelê in tradisies, is ook vereis.

Deur al hierdie dinge het die Christendom beweeg van ‘n enkele ortodokse geloof na ‘n magdom kleiner gelowe, elk vas oortuig dat hul eie aardse organisasie ‘die ware kerk’ is. Meeste besef nie dat die kerk mense is - nie organisasies nie - en dat God belangstel om met elke mens in ‘n verhouding te wees waar Hy direk met elke individu praat. Terwyl elke mens die stem van God individueel behoort te hoor, is daar egter ook ‘n onderlinge afhanklikheid van mekaar, wat deur die wet van dubbel getuienis ondersteun word, waarop alle waarheid bevestig moet word. Hierdie beginsel is egter alleenlik toepasbaar wanneer die Goddelike wet op mense se harte geskryf is, want God moet elkeen van ons leer hoe om die wet van dubbelgetuienis behoorlik toe te pas. Wanneer ons die doel van die wet begryp, sal ons die wil van God verstaan in alle aardse aangeleenthede.

Ons vermoë om God se stem te hoor is ten volle afhanklik van die toestand van ons harte. Is ons in ooreenstemming met God se wet, of is ons gekant teen Sy wil? Skuif ons die wet opsy, omdat ons dit nie verstaan nie en daarom nie gehoorsaam hoef te wees daaraan nie? Of vra ons God om ons te onderrig aangaande Sy wet, sodat ons Sy wil kan verstaan? Hierin lê die ware toets van Pinkster. Baie wat hulleself Pinkster of Protestant ag, faal die toets maklik, net soos Israel in daardie eerste toets aan die voet van Sinaï gefaal het. Kom ons vra God om Sy wet op ons harte te skryf, sodat ons in volle ooreenstemming met Hom kan wees en Sy wet en wil kan verstaan. Kom ons vra God om ons te help om die toets van Pinkster te slaag, sodat ons vars insig van die Loofhuttefees kan ontvang en nie te lig bevind word om al Sy beloftes en seën te ontvang nie.