God's Kingdom Ministries
Serious Bible Study

GKM

Donate

Hoofstuk 5: Die Erflating

Die FEES VAN TABERNAKELS (Loofhuttefees) is die derde en finale fees in die wetlike voorskrifte van die Israeliete. Dit verteenwoordig die geleentheid toe Irael veronderstel was om die Beloofde Land binne te gaan, nadat hulle uit Egipte weggetrek het en nadat hulle die wette by die berg Sinaï ontvang het.

Gedurende Israel se ondervinding onder Moses, het tien van die twaalf spioene slegte terugvoer gelewer op die vyftigste Jubileum vanaf Adam (Sien my boek, Secrets of Time vir meer duidelikheid hieroor). Die mense het hierdie slegte nuus geglo en geweier om die Jubileum-trompet te blaas, wat sou aankondig dat hulle beoog om die Beloofde Land binne te val. Daarom is daardie dag verander na die Dag van Versoening. Dit moes ‘n dag van blydskap en jubel gewees het, maar is toe verander na ‘n dag van ween, vas, berou en inkeer, omdat hulle geweier het om die land binne te gaan.

As Israel daardie dag, op die dag van Jubileum, die regte besluit geneem het, sou hulle vyf dae later die Beloofde Land binne gegaan het, op die eerste dag van die Loofhuttefees. In stede daarvan het God hulle gevonnis om vir veertig jaar lank in die woestyn rond te swerf. Uiteindelik het hulle die land binne gegaan in die tyd van Paasfees (die 10de dag van die 1ste maand op die Joodse kalender) (Josua 4:19). Israel was nie daartoe in staat om ‘n toestand van geloof hoër as die Paasfees-vlak te bereik sedert hulle uit Egipte weggetrek het nie - dit was die rede daarvoor. Hulle het Paasfees aanvaar, maar Pinkster verwerp en as gevolg daarvan nie die geloof gehad om Loofhutte te vervul nie.

Die Loofhuttefees duur ‘n week. Die Israeliete moes boomtakke afsny en dit gebruik om tente of hutte mee te bou, waarin hulle dan vir die duur van die fees moes woon. Dit dui op twee dinge waaraan hulle daardeur herhinder word: Eerstens moes hulle die tyd onthou toe hulle in die woestyn geswerf het en nie huise kon bou nie, maar in tente gewoon het. Tweedens het dit profeteer van die onsterflike liggaam wat hulle sou beklee sodra die Loofhuttefees uiteindelik histories en profeties vervul word.

Met betrekking tot die eerste herinnering sê Levitikus 23:42-43 die volgende:

42 You shall live in booths for seven days; all the native-born in Israel shall live in booths, 43 so that your generations may know that I had the sons of Israel live in booths when I brought them out of the land of Egypt ...

42 Sewe dae lank moet julle in hutte woon; almal wat in Israel gebore is, moet in hutte woon. 43 sodat julle geslagte kan weet dat Ek die kinders van Israel in hutte laat woon het toe Ek hulle uit Egipteland uitgelei het ...

Ons vind dat Israel se eerste plek van samekoms, nadat hulle uit Egipte weg is, by ‘n plek met die naam ‘Sukkot’ was, wat ‘hut’ beteken (Eksodus 13:20). Daarom is die ‘vergadering in die wildernis’ (Handelinge 7:38) opdrag gegee om in ‘hutte/tente’ te woon eerder as huise. Dieselfde is van toepassing op die ‘vergadering’ (kerk) van die Pinkster-tydperk, maar op ‘n ander manier. Dit beteken:

Engels: ‘Do not build a denominational house in the wilderness; if you do, you will stop your journey in the wilderness and refuse to go all the way to the Promised Land’.

Afrikaans: ‘Moenie ‘n gebou in die wildernis oprig vir ‘n denominasie nie; as jy dit doen, sal jou reis in die wildernis tot stilstand kom en jy sal weier om die res van die reis na die Beloofde Land af te lê’

Wanneer die Heilige Gees van tyd tot tyd wel in die kerk beweeg, word dit altyd vergesel deur ‘n spesifieke openbaring van die Woord wat belangrik is in die geskiedkundige progressie, volgens die geestelike volwassenheid van die ‘kerk’. Sodra die Gees ‘oplig’, denominaliseer (groepeer) mense daardie spesifieke openbaring – soos om ‘n huis by ‘n oasis in die wildernis te bou en dan tevrede te wees om daardie huis in die wildernis te erf. Op hierdie manier mis die mens God se belofte. Dit is hoe die kerk die visie van die Beloofde Land verloor het en vergeet het van die Loofhuttefees. Die ‘hemel’ het hul nuwe Beloofde Land geword, in stede van ‘n verheerlikte liggaam (hemel en aarde gekombineer).

In die vierde eeu A.D. het die kerk ‘n spesifiek georganiseerde godsdiens geword. Tot op daardie stadium was dit eerder ‘n leefwyse en die Romeinse vervolging het verhoed dat dit hoogs georganiseerd kon word met ‘n rangorde van priesters en biskoppe. Toe die vervolging stop het die kerk onmiddelik denominaliseer en ‘n godsienstige ‘huis’ gebou.

Eeue later het die Protestantse Reformasie dosyne kleiner groepe voortgebring, maar as gevolg van vervolging is hulle ook grootliks verhoed om godsdienstige ‘huise’ in die wildernis te bou en organiseer. Toe hulle egter hul vryheid kry, het hulle in presies dieselfde denominatiewe strik getrap. Hul godsdiens het ‘n plaasvervanger geword vir ‘n direkte verhouding met God. In stede daarvan om self die ‘kerk’ te wees, het hulle na die kerk toe gegaan. In stede daarvan dat hul lewens om God gedraai het, het dit begin draai om hul kerke, altare en priesters of predikante. Verlossing het ‘n saak geword van aansluiting by ‘n organisasie eerder as ‘n mens se persoonlike, direkte verhouding met God.

Kerkgroepe het so gestruktureerd en in hul weë vasgestel geraak, dat hulle nie kan hoor wanneer die Gees van God ‘n herlewing of nuwe openbaring bring nie. Hulle kan eenvoudig nie verander nie. Hulle kan nie groei nie. Net soos Israel van ouds, kan hulle nie saam beweeg wanneer die vuurkolom aanbeweeg nie, omdat hulle te verknog geraak het aan hul ‘huise’ wat onbeweegbaar is. Hulle raak soos beton: Vermeng en doktrinêr.

Wat die tweede herinnering betref, stel dit die beeld voor van ‘n liggaam geklee met onsterflikheid. Die Israeliete moes hul huise (van dooie beton en klip) verlaat en vir ‘n week lank in ‘n hut, gebou met die lewende takke van bome, woon. Die Apostel Paulus het in 2 Korintiërs 5:1-4 die volgende hieroor te sê gehad:

1 For we know that if the earthly tent which is our house is torn down, we have a building from God, a house not made with hands, eternal in the heavens. 2 For indeed in this house we groan, longing to be clothed with our dwelling from heaven; 3 inasmuch as we, having put it on, shall not be found naked. 4 For indeed while we are in this tent, we groan, being burdened, because we do not want to be unclothed, but to be clothed, in order that what is mortal may be swallowed up by life.

1 WANT ons weet dat as ons aardse tentwoning afgebreek word, ons ‘n gebou het van God, ‘n huis nie met hande gemaak nie, ewig, in die hemele. 2 Want om hierdie rede sug ons ook en verlang om met ons woning uit die hemele oorklee te word, 3 as ons ten minste gekleed en nie naak bevind sal word nie. 4 Want ons wat nog in die tent is, sug en voel beswaard, omdat ons liewer nie ontklee nie, maar oorklee wil word, sodat die sterflike deur die lewe verslind kan word.   

Die ‘tent’ waarin ons tans leef is die sterflike liggaam wat ons van Adam geërf het. Paulus praat daarvan in terme van klere ook, omdat Adam naak bevind is nadat hy sy onsterflike liggaam verbeur het (Genesis 3:10). Die enigste ware manier om naaktes te beklee is wanneer hulle ‘n onsterflike liggaam, die ‘tent’ van bo ontvang. Dit word deur die Loofhuttefees uitgebeeld, wanneer mense hul dooie huise verlaat en vir ‘n ruk in lewende, nuwe ‘tente’ woon.

Die Beloofde Land, wat ons bestem is om te erf, is nie ‘n lap vaste eiendom iewers in die Midde Ooste nie. Hoewel dit wonderlik is om vaste eiendom te erf, is dit nie die beste, hoogste erflating nie. Land is ‘n Ou Verbond erflating. Die verheerlikte liggaam – van die stof van die aarde verheerlik deur die Heilige Gees – is die Nuwe Verbond erflating wat God ons beloof het. Dít is ons ‘Beloofde Land’. Die boek, Hebreërs, vertel ons dat die Nuwe Verbond baseer word op ‘beter beloftes’ (Hebreërs 8:6).

Wil jy eerder die eienaar van ‘n stuk grond iewers wees of ‘n seun van God met ‘n verheerlikte, onsterflike liggaam? Die keuse is maklik.

Sommige leraars dring daarop aan dat die Jode die land Palestina as hul erfdeel sal ontvang, terwyl die Christene ‘n hemelse erflating gaan kry. Beteken dit dan dat die Apostel Paulus en al Jesus se Joodse dissipels ‘n minderwaardige erflating as ons gaan onvang? Het Paulus verkondig van ‘n verheerlikte liggaam, net om af te lei dat dit bedoel is vir iemand anders? Bog! Die feit bly staan dat die boek Hebreërs vir die Hebreeuse gemeenskap geskryf was, om hulle aan te spoor tot die Nuwe Verbond, sodat hulle ‘beter beloftes’ kon ontvang. Die Nuwe Verbond was geadresseer aan die huis van Israel en die huis van Juda (Jeremia 31:31; Hebreërs 8:9-13).

Sommiges sal gewillig wees om die Jode in hul ongeloof en hul begeerte na ‘n geringer belofte te laat, maar ek gaan dit nie doen nie. Daar is slegs een eindbestemming vir die mensdom en die skepping in geheel, en God sal nie tevrede wees tot Sy plan sukses bereik nie. Daarom wil ek hê dat alle mense die verheerlikte liggaam moet ontvang, want ek sien dit as die Goddelike plan van die begin af.