God's Kingdom Ministries
Serious Bible Study

GKM

Donate

Hoofstuk 5: Tien Dae van Berou

In Numeri 10 word die blaas van trompette ten doel gestel om die mense byeen te roep (net leiers of leiers en al die mense) en om mense gereed te kry vir oorlogvoering. Ons het bespreek hoe dit profeties spreek van die Fees van Trompette op twee maniere: Eerstens om die mense God tegemoet te roep en tweedens as oproep tot oorlog, wat moontlik dui op die dag van Jerusalem se verwoesting met God se optrede.

Ons weet natuurlik nie of hierdie twee gebeure in dieselfde jaar sal plaasvind nie - dit sal waarskynlik, maar word nie in die Skrif verduidelik nie.

Sodra die Fees van Trompette vervul is en die eerste opstanding plaasvind, sal ‘n beperkte aantal gelowiges uit die dood opgewek word. Dit sal nie ALLE gelowiges insluit nie, want daar sal nog ‘n uur aanbreek wanneer ALMAL wat in die grafte is, opgewek sal word. Hierdie ander (later) opstanding sal gelowiges en ongelowiges insluit (Johannes 5:28-29).

Dit word bevestig deur Paulus se getuienis voor Felix in Handelinge 24:14-15:

14 But this I admit to you, that according to the Way which they call a sect I do serve the God of our fathers, believing everything that is in accordance with the Law, and that is written in the Prophets; 15 having a hope in God, which these men cherish themselves, that there shall certainly be a resurrection of both the righteous and the wicked.

14 Maar dit erken ek voor u dat ek volgens die Weg wat hulle sekte noem, so die God van my vaders dien, terwyl ek alles glo wat in die wet en in die profete geskrywe is, 15 en ‘n hoop op God het, ‘n hoop wat hulle self ook verwag, dat daar ‘n opstanding sal wees van die dode, regverdiges sowel as onregverdiges.

Paulus verwys nie hier na die eerste opstanding wat beperk is tot net ‘n paar gelowiges nie. Hy het verwys na die tweede opstanding waarvan in Openbaring 20:11-15 gepraat word en wat almal in grafte insluit.

So ook het Jesus van hierdie opstanding gepraat in Lukas 12:42-49. Hy sê dat die getroue dienskneg outoriteit sal ontvang (vers 44), maar as hierdie diensknegte (gelowiges) die ander diensknegte (gemeente) onderdruk, sal hulle hul beloning (lewe) ontvang wanneer die ongelowiges oordeel ontvang (vers 46) ‘...en hom ‘n deelgenoot maak van die ontroues.’ Die beloning sal natuurlik nie dieselfde wees nie, maar dit sal op dieselfde tyd gegee word.

Verder sê Jesus dat sulke onderdrukkers volgens die wet in Deuteronomium 25:1-3 geoordeel sal word, want wie die wil van God geken het, maar dit nie uitgevoer het nie, ‘sal met baie slae geslaan word;’ en iemand wat in onkunde ander onderdruk het, ‘sal met min slae geslaan word.’

Hier word nie van ongelowiges gepraat nie, maar van gelowiges wat verantwoordelik gehou sal word vir hul vlak van goddelike openbaring. Hoe meer gelowiges weet, hoe meer verantwoordelikheid het hulle. Die wet beperk egter die straf tot 40 slae (Deuteronomium 25:3) - dit is moontlik waarna Paulus verwys het toe hy in 1 Korintiërs 3:15 gesê het: ‘as iemand se werk verbrand word, sal hy skade ly; alhoewel hy self gered sal word, maar soos deur vuur heen.’

Dit is ook waarom Jesus Sy onderrig in Lukas 12 afgesluit het (hoewel dit onder ‘n nuwe opskrif staan) met die stelling in vers 49, waar Hy slae gelykstel aan ‘vuur’. Vuur is die simbool of sinnebeeld van oordeel volgens wet en van die karakter van God, wat op Sinaï verskyn het as ‘verterende vuur’ om aan Israel die wet te oorhandig.

Sodra die Fees van Trompette binnekort vervul word en die kwalifiserende oorwinnaars uit die dood opgewek word, gaan baie Kerkleiers geweldig verras wees, wanneer hulle besef dat hulle nie geroep is om die Here in die lug te ontmoet nie. Sodra hierdie werklikheid hulle tref gaan dit ‘n tyd van groot berou aan die gang sit.

Hierdie berou sal vererger word indien Jerusalem en die Israeliese staat op dieselfde tyd vernietig word, want dan sal hulle besef dat hulle Hagar as hul moeder gesien het en geweier het om die slavin en haar seun ‘uit te werp’ (Galasiërs 4:30). Hulle sal ook besef dat hulle finansiering van Joodse families om na die Israeliese staat terug te trek, net die dood van meer Jode bewerk het.

Die dae tussen die Fees van Trompette op die 1ste dag van die 7de maand en die Dag van Versoening op die 10de dag van die 7de maand, staan in Joodse kringe bekend as die Tien Dae van Berou. Dit was en is steeds ‘n tyd vir introspeksie, berou en voorbereiding vir die Loofhuttefees. Ek glo dat die Fees van Trompette gaan veroorsaak dat baie die Dag van Versoening en Tien Dae van Berou sal onderhou. Hulle sal nie ‘n bok slag of in die wildernis in lei, soos voor die Nuwe Verbond gedoen is nie, maar hulle sal in ‘n staat van skok en berou wees en baie sal dan vas ook.

Ongelukkig sal baie van hulle wees soos die vyf dwase maagde wat te min olie vir hul lampe gehad het om die bruilof by te woon (Matteus 25:1-13) - Loofhuttefees. Met die Fees van Trompette sal die oproep weerklink ‘Daar kom die Bruidegom; gaan uit Hom tegemoet!’, maar net die oorwinnaars (vyf wyse maagde) sal kwalifiseer om Hom tegemoet te gaan, hoewel al tien van hulle (alle gelowiges) op Hom gewag het.

Tog is alles gelukkig nie verlore nie - net die grootste beloning, wat te doen het met outoriteit en heerskappy saam met Hom, sal vir baie verlore wees. Dit is ‘n beloning wat verder strek as verlossing self. Alle gelowiges sal gered word, maar nie almal sal saam met Hom die nasies regeer nie. Verder sal hulle ook nog ‘n duisend jaar moet wag, voordat hulle hul onsterflike liggame ontvang.

Hoewel lewensduur sal verleng tot die punt waar mense jonk geag word, wanneer hulle op ouderdom 100 sterf (Jesaja 65:20), sal hulle nog nie onsterflik wees in die Loofhuttetydperk wat voorlê nie. Hulle sal nog nie gekleed wees met die tabernakel (liggaam) van die hemel, waarvan ons in 2 Korintiërs 5:1-4 lees nie. Hulle sal nog nie gereed of voorbereid wees om die Fees van Tabernakels te ondervind nie, omdat hulle geen voorbereidings daarvoor getref het gedurende hulle toegekende tyd op aarde nie.

Hulle sal beslis gered word, maar nie die beter opstanding van die oorwinnaars ontvang nie (Hebreërs 11:35). Dit is die rede waarom Paulus homself disiplineer het, sodat hy nie eindelik diskwalifiseer sal word nie (1 Korintiërs 9:27). Paulus het nie daaraan getwyfel dat hy gered sou word nie, maar hy was onseker of hy as oorwinnaar sou kwalifiseer. Eers aan die einde van sy lewe het hy geweet dat hy die wedloop voleindig het, tot die einde geloof behou het en ‘die kroon van [die] geregtigheid’ sou ontvang (2 Timoteus 4:7-8).

Baie het Paulus se twyfel misinterpreteer as onsekerheid of hy gered sou word. Hierdie leerstelling het ‘n golf van onsekerheid en vrees in die Kerk teweeg gebring, wat gebruik is om mense in slawerny van dade te plaas. Hierdie vrees is deur gewetenlose kerkleiers gebruik om mense te motiveer om meer geld aan die kerk te gee as bewys van hul opregtheid.

Maar die waarheid maak mens vry. Sodra Christene die openbaring van die feesdae ken, kan hulle maklik onderskei tussen Paasfees-gelowiges wat deur geloof verskoon word, Pinkster-gelowiges wat deur die Gees verskoon word en Loofhutte-gelowiges wat beloon sal word deur saam met Hom te regeer.

Dit is die reis na volkome redding van gees, siel en liggaam (1 Tessalonisense 5:23). Paasfees red jou siel, Pinkster red jou gees en Loofhutte red jou liggaam. Ons noem dit Regverdiging, Heiliging en Verheerliking of ‘die verlossing van ons liggaam’ Romeine 8:23.

Weet ook dat die verheerlikte liggaam nie soos die huidige liggaam met sy beperkings sal wees nie. Die mens wat die Loofhuttefees vervul sal ‘n liggaam ontvang soos die een wat Jesus ná Sy opstanding gehad het. Hy het mag in beide die hemel en op aarde gehad (Matteus 28:18), Hy kon gemaklik in albei dimensies beweeg. Daar word oor dit in die Skrif profeteer en ons sal dit verduidelik wanneer ons die Loofhuttefees bestudeer.

Vir nou is dit voldoende om die Fees van Trompette te verstaan asook die verhouding daarvan tot die Dag van Versoening en Dae van Berou. Intussen stel ek voor dat jy nog vandag genoeg olie vir jou lamp aankoop. Moenie wag vir die Fees van Trompette nie, want dit sal te laat wees.