Latest Posts
View the latest posts in an easy-to-read list format, with filtering options.

Hierdie boek is die eerste van agt in die reeks en behels ‘n studie van Openbaring 1 en 2. Dit eindig met Openbaring 2:17 Aanhalings uit NASB en 1933 AV tensy anders vermeld.
Category - Bible Commentaries
In ‘n sekere sin kan die boek Openbaring beskou word as die gevolgtrekking en slotsom van die boek Daniël.
Daniël se profesie fokus op die nasies wat die heerskappymandaat ontvang het, nadat Juda daarin gefaal het om die terme daarvan te vervul. Hierdie ander nasies was egter ook verdoem tot mislukking, omdat hulle nooit volgens die plan van God uitverkies was om die wêreld in die regverdigheid van die Koninkryk van God in te lei nie. As Juda - wat oor die wet van God beskik het, nie hierdie verantwoordelikheid kon vervul nie, hoe sou ander nasies - wat nie die openbaring daarvan ontvang het nie ooit kon slaag waar Juda misluk het?
Nietemin, God het dit goed gedink om die heerskappymandaat vir ‘n seisoen lank aan ander nasies oor te gee, om Juda te veroordeel vir hul aanhoudende ontheiliging van die Verbond. Wanneer dié wat geroep word in hul roeping misluk, rig God ander op om die taak te verrrig, hoewel hierdie plaasvervangings dikwels erger faal as dié wat oorspronklik daartoe geroepe was.
So onthul Daniël die opeenvolging van Ryke wat sou opstaan ná Jerusalem se mislukking. Hy openbaar vier hoof Ryke en ‘n ekstra verlenging van die vierde Ryk, bekend as die ‘ander horing’. Daniël se gevolgtrekking is dat hierdie Ryke sal val voor die Koninkryk van God, uitgebeeld as ‘n ‘klip’ gemaak van die berg, maar nie met mense se hande nie. Hierdie Koninkryk sal die heerskappy-mandaat ontvang om te heers oor alle nasies onder ‘n onfeilbare Messias.
Die Openbaring aan Daniël was grootliks beperk tot die eerste drie Ryke: Babilon, Persië en die Grieke. Hy los die taak om die vierde Ryk te openbaar vir Johannes (die opstaan en val van Rome asook die verlenging daarvan - die ‘ander horing’). Daniël het egter openbaring ontvang met betrekking tot die koms van die Messias. Hy koppel dit aan ‘n sekere bevel wat uitgereik sou word deur die koning van Persië en dat die Messias ‘sewentig weke’ (in jare) daarna op die toneel sou verskyn.
Ander openbarings met betrekking tot tydsberekening is onduidelik en daar is byna geen manier waarop enigiemand hierdie ‘verseëlde’ openbarings van tyd kan ontsyfer nie. Slegs deur vanuit ons moderne perspektief terug te kyk in die geskiedenis, staan ons ‘n kans om die seël van dié openbarings oop te maak.
Daniël se hoof geskiedkundige profesieë eindig redelik onverwags aan die einde van sy elfde hoofstuk, met die val van Antiochus Epiphanes ‘n koning van ‘n Griekse Staat. Hy was nie die finale koning van die verdeelde Griekse Ryk nie, maar as gevolg van sy gruwelikheid is die heerskappy-mandaat in 163 B.C. van sy Ryk ontneem en aan Juda gegee. Dit het vir eenhonderd jaar aan hulle ‘n mate van vryheid verleen. In 63 v.C. het die Romeinse Generaal - Pompey, Jerusalem ingeneem nadat God die heerskappymandaat aan Rome oorhandig het.
Die profetiese implikasies van hierdie gebeure word ten volle bespreek in my opmerkings en verklarings oor die boek van Daniël.
Behalwe vir die verseëlde tydsberekenings in Daniël 12, bereik die geskiedenis profeteer deur Daniël ‘n klimaks in die finale verse van Daniël 9, waar ons lees van die koms van die Messias. Die profeet verwys ook na die verwoesting van Jerusalem, hoewel hy niks sê van die oorsaak van daardie verskriklike dae nie.
Daniël onderskei ook nie tussen die twee komste van die Messias of die twee verwoestings van Jerusalem nie. Hierdie detail is oorgelaat aan die skrywers van die Nuwe Testament, aan wie Jesus verduidelik het dat Hy ‘n ‘tweede maal’ sou kom (Hebreërs 9:28). Dit is dus duidelik dat die boek Daniël onvolledig is sonder die openbaring van die Nuwe Testament. Die storie van die Koninkryk bereik ‘n klimaks aan die einde van die era, in Johannes se boek - Openbaring.
Net soos Daniël, vertel Johannes dat die Koninkryk gegee sal word aan dié wat kwalifiseer om te heers - met ander woorde: dié met dieselfde karakter as Christus. Daniël noem hulle ‘die heiliges van die Allerhoogste’ (Daniël 7:22 en 25) en dié vir wie ‘trone reggesit is’ (Daniël 7:9). Johannes weerklank dit deur te sê ‘En ek het trone gesien, en hulle het daarop gaan sit, en aan hulle is die oordeel gegee’ (Openbaring 20:4). Hy sê verder: ‘... hulle sal priesters van God en van Christus wees en sal saam met Hom as konings regeer duisend jaar lank.’ (Openbaring 20:6).
In werklikheid het die Openbaring of ‘Onthulling’ van Jesus Christus ten doel om ons te kwalifiseer vir heerskappy, sodat ons nie in dieselfde gat val as die konings van Juda nie. Dié wat kwalifiseer om in die Koninkryk van God te heers is dié in wie Christus geopenbaar word. As gevolg van hierdie innerlike onthulling, is hulle daartoe in staat om Christus aan ander bekend te stel of openbaar. Toe Paulus geskryf het dat ‘die heiliges die wêreld sal oordeel...’ (1 Korintiërs 6:2) het hy na dieselfde ‘heiliges’ verwys as waarvan Daniël in sy visioene melding gemaak het.
Die opkoms van die Klipkoninkryk sal tyd hê om sy waardigheid te bewys - om die heerskappy-mandaat te ontvang. Dit sal nie faal soos al die voorgangers daarvan nie. Sodra dit ‘n duisend jaar lank bewys het dat dit waardig is, sal die groot ‘dagvaardiging’ uitgereik word vanaf die ‘Groot Wit Troon’, wat al die dooies sal roep om voor die Hof te verskyn. Hierdie gebeurtenis sal die volgende gedeelte van die aarde se geskiedenis laat aanbreek - die tydperk van Goddelike Oordeel tot die einde van tyd, wanneer die laaste trompet die Skeppingsjubileum sal aankondig.
Beide die Apostel Paulus en Johannes het deeglik verdudelik dat die skepping ‘vrygemaak sal word van die slawerny van die verganklikheid tot die vryheid van die heerlikheid van die kinders van God.’ (Romeine 8:21). Johannes se weergawe in Openbaring 5:13 openbaar ook hierdie klimaks in die geskiedenis:
13 And every created thing which is in heaven and on the earth and under the earth and on the sea, and all things in them, I heard saying, ‘To Him who sits on the throne, and to the Lamb, be blessing and honour and glory and dominion forever and ever.’
13 En elke skepsel wat in die hemel en op die aarde en onder die aarde en wat op die see is, en alles wat in hulle is, het ek hoor sê: Aan Hom wat op die troon sit, en aan die Lam kom toe die lof en die eer en die heerlikheid en die krag tot in alle ewigheid!
Dus verplig die Wet van Jubileum ‘n limiet - nie alleen op kommersiële skuld nie, maar ook op die oordeel oor sonde (in die Bybel word sonde as skuld gereken). Jubileum is die wet van Genade. Hoewel dit nie goddelike oordeel elimineer nie, stel dit grense daarvoor, sodat genade of barmhartigheid uiteindelik oor oordeel ‘roem’ (Jakobus 2:13).
Om hierdie rede word die tydperk van goddelike oordeel in die Bybel voorgestel as olam (Hebreeus) en aionian (Grieks). Die Hebreeuse woord word dikwels vertaal as ‘ewig’ of ‘ewigdurend’, maar beteken in werklikheid ‘n ‘verborge’, ‘onbekende’ of ‘onbeperkte’ periode in tyd. Die woord ‘olam’ kom van die stamwoord ‘alam’ wat ‘versteek’ of ‘onduidelik’ beteken. Die Griekse woord aionian is bloot die Griekse weergawe van die woord olam en beteken letterlik ‘ouderdomsgehoorsaam’ of ‘n ‘onbepaalde tyd’.
Dus is goddelike oordeel nie ‘ewig’ nie, maar ‘n onbepaalde tyd. Die duur van die tydperk van oordeel is vir ons verborge en onduidelik, maar die goddelike wet self plaas ‘n limiet op alle oordeel oor sonde (skuld). Goddelike oordeel word dus beperk deur die wet van genade.
‘n Goeie begrip van hierdie dinge verseker dat ons verstaan dat God aan die einde oorwin. Die ganse skepping sal na Hom terugkeer. Alle dinge word aan Hom (Christus) onderwerp, ‘... sodat God alles in almal kan wees.’ (1 Korintiërs 15:28), en ‘... Hy [het] niks uitgesonder wat aan Hom nie onderworpe is nie.’ (Hebreërs 2:8).
Wanneer ons Daniël en Openbaring as ‘n harmonieuse openbaring van God se plan aangaande die skepping sien, word ons insig daarin grootliks verbreed. Ons moet inderdaad die Skrif in geheel sien as rekord met een holistiese gedagte, want hoewel elke skrywer uniek is, dra elk se gedeelte by tot die goddelike openbaring as ‘n geheel. Geen enkele openbaring is voltooid onafhanklik van die ander nie, ook kan individuele openbarings nie volkome verstaan word as dit van die res afgesonder word nie.
Miskien is die heel belangrikste punt die verhouding tussen Israel en die ander nasies in die Ou Testament teenoor die Nuwe Testamentiese ewebeeld daarvan - die verhouding tussen gelowiges en ongelowiges. Van die begin van die geskrewe openbaring af was God altyd besorg oor die ganse skepping en alle nasies - nie net ‘n gedeelte daarvan, byvoorbeeld Israel of die kerk nie. Toe God vir Abraham geroep het, was dit nie ‘n belofte van redding aan net hom en sy nageslag nie, maar seëning vir almal - dit is vir al die geslagte van die aarde (Genesis 12:3). Abraham se roeping het nie met sy persoonlike status of karakter te doen gehad nie, maar met God se vermoë om ander deur hom te seën.
Dit is die sin van God - dat ‘n paar geroep word om baie te seën: Israel was geroep om baie nasies te seën, die kerk is groep om ongelowiges te seën, God se vriende was geroep om Sy vyhande te seën. Aan die einde word Ninevé bekeer (Jona 3:10; 4:11); Nebukadnesar die koning van Babilon word verneder uit sy trotsheid en sy koninkryk word onder die voete van Jesus geplaas (Daniël 4:37); Persië onder heerskappy van Darius is op soortegelyke wyse onder die voete van Jesus geplaas (Daniël 6:27); In 1 Korintiërs 15:27 en weer in Hebreërs 2:8 bevestig Paulus hierdie feit wanneer hy sê: ‘Alle dinge het U onder sy voete gestel.’. Openbaring 11:15 verklaar ‘... die koninkryke van die wêreld het die eiendom van onse Here geword en van Sy Christus ...’
Terwyl baie God se vermoë om Sy beloftes te hou betwyfel, omdat hulle dink dat Sy wil afhang van die wettelose wil van die mens, het dié wat in God se Nuwe Verbond glo gesien dat God nie sal toegee aan die wil van die mens nie. Geen hoeveelheid teenkanting kan die wil van God teëgaan wanneer Hy besluit het om ‘n sekere doel te bereik nie.
Die openbaring van die Skrif of Bybel het na ons gekom op ‘n manier saamgestel volgens die Hebreeuse letterkundige patroon bekend as ‘n kiasme of spieëlpatroon. Die algehele struktuur is as volg:
A Belofte van die Koning en die Koninkryk (Ou Testament)
B Die Koning Opgelewer en Verwerp (Evangelie)
B¹ Die Koninkryk Aangebied en Verwerp (Handelinge en Apostels)
A¹ Die Koning en die Koninkryk Onthul (Openbaring)
In elk van hierdie breë kategorië is daar natuurlik ‘n magdom detail. Die boek Genesis, wat die aanvang van die eerste gedeelte is, is die ‘Begin’ en is onafskeidbaar gekoppel aan die boek Openbaring, wat die ‘Einde’ is. Die Genesis optekeninge gee ons die ‘saad’ van die vrou (Genesis 3:15), terwyl Openbaring Sy identiteit en troonsbestyging in die Koninkryk onthul.
Dit neem ‘n lang tyd om die storie te voltooi. Intussen kom dit vir baie voor of hierdie beloftes skynbaar misluk het, omdat gesê word: vandat ‘... die vaders ontslaap het, bly alles soos dit was van die begin van die skepping af’ (2 Petrus 3:4). Paulus sê egter dat ons niks voor die tyd moet oordeel nie (1 Korintiërs 4:5). Die beloftes wat God in Genesis gemaak het, bly beloftes tot die vervulling daarvan in Openbaring geskied. Dit kom dalk voor of die gang van die geskiedenis die teenoorgestelde koers inslaan as God se beloftes, maar dié wat in God se Woord glo, word nie deur die skynbare ontmoedig nie.
Die ooreenkomste tussen die Ou Testament (A) en die boek Openbaring (A¹) is duidelik deur die feit dat Johannes die Ou Testament 285 keer aanhaal. Dit is baie meer kere as die Evangelie van Matteus (92) en selfs Hebreërs (102). Hierdie feit opsigself behoort mens se laat besef dat die boek Openbaring wesenlik ‘n Hebreeuse boek is wat in Grieks verwoord is - hoewel die taal Grieks is, is die konsep Hebreeus. Johannes het vir ‘n groot deel van sy lewe in Efese gewoon en was die Griekse taal goed magtig. Sy konsepte en definisies spruit egter uit sy wortels in die Hebreeuse kultuur. Dus moet ons versigtig wees om nie die boek Openbaring met ‘n Griekse denkwyse te bestudeer nie.
Groot gedeeltes van die beeldspraak in Openbaring word gebaseer op die tempel in Jerusalem en kom vanuit die perspektief van ‘n priester. Ons weet dat Johannes uit ‘n priesterlike familie kom - ek bespreek dit deeglik in my boek Dr. Luke, Healing the Breaches, Boek 8, Hoofstuk 9. Hy was vertroud met tempelgebruike en hy was ook ‘n getuie van priesteraktiwiteite. Johannes se voordeel was natuurlik dat hy ‘n openbaring gehad het van die geestelike betekenis van wat vleeslik in die tempel gedoen is voor die verwoesting daarvan in 70 A.D. Hy het verstaan dat die aardse tempel ‘n voorbeeld van die geestelike tempel in die ‘hemel’ was en dat dit geestlike waarhede uitgebeeld het. Ons moet dus Johannes se Hebreeuse denkwyse (na die beste van ons vermoë) aanneem ten einde te verstaan wat hy ons in Grieks vertel het.
Johannes se evangelie is saamgestel volgens ‘n parallelisme gebaseer op die feeste van die Here. Hierdie feeste is profeties van die twee komste van Christus, wat ook die Skrif se onderwerp van Genesis tot Openbaring vorm. Die struktuur daarvan wat, soos reeds vermeld, ‘n Hebreeuse literêre insturment is, dui op Johannes se Hebreeuse denkwyse, sowel as skryfstyl.
Ons weet uit Johannes se eerste sendingsbrief (ook saamgestel soos ‘n spieëlpatroon), dat die verduideliking van God se liefde een van sy hoof bemoeienisse was. Dit is ‘n boek met betrekking tot ‘oorsprong’, want hy wys hoe tekortkomings van die mens en nasies se karakters al in die vroeë hoofstukke van Genesis aan die lig gekom het. Daarom span hy beeldspraak oor die skepping van lig en donker, Eva en die slang, Kain en Abel, Christus en die Antichris, kinders van God en kinders van die duiwel asook ‘n liefde vir die waarheid en verleiding tot wetteloosheid in.
Hierdie begrippe vorm die fondasie waarop die boek Openbaring saamgestel is. Johannes bied ons die uiteindelike oorwinning van goed oor die bose magte. Die skepping was ‘baie goed’ verklaar (Genesis 1:31). Sonde het die wêreld later binnegedring en ‘n tydelike vertraging in die vervulling van die goddelike plan vir die skepping veroorsaak. Die skepping sal vry gemaak word en Christus sal regeer oor als wat Hy aan die begin geskape het - dít is Johannes se openbaring van Christus.